STAGING — geen werklike geld of e-pos / no real money or mail
← Alle stories Matriek 1990

Terugblik na Gister

12 May 2026 · Hoërskool Randburg
Wat is jou gunstelingherinnering van jou matriekjaar by Hoërskool Randburg? Die sport en kultuur sal altyd uitstaan – veral die rugbyseisoen in ons matriekjaar toe ons die Direkteurstrofee gewen het. Die wedstryde was altyd baie “tough” en ongelooflik goed ondersteun deur die skoliere sowel as die onderskeie gemeenskappe. Die oorwinning teen Linden was ’n hoogtepunt, en natuurlik die wen in die finaal. Ons het ook dieselfde jaar net-net teen Affies in die krieketfinaal verloor. Ons koor het in daardie jaar ook die Direkteurstrofee gewen. Watter onderwyser of mentor het die grootste invloed op jou gehad – en hoekom? Mnr. Piet Otto en mnr. Johan Ueckermann. Piet was ’n harde ou (en moes self ’n paar harde houe neem in sy tyd), maar hy het my ongelooflik baie geleer van spanwerk, dissipline, toegewydheid en ‘n paar baie belangrike lewenslesse. My agterstewe het ’n paar keer gebrand, maar ons het geleer. Johan Ueckermann het die kreet “Blou Masjien” by die skool gevestig. Sy vermoë om die skoliere te laat saamstaan was ’n besondere gawe. Aan watter sport-, kultuur- of buitemuurse aktiwiteite het jy deelgeneem? Ek het aan atletiek, rugby en krieket deelgeneem en provinsiale kleure in al drie sporte verwerf. Ek is ook tot die SA Skole-krieketspan en ‘n Suid-Afrikaanse Skole Uitnodigingspan vir rugby verkies. Wat was jou grootste uitdaging in matriek, en hoe het jy dit oorkom? Om my kuif elke oggend in plek te kry voor skool – die res was “easy”! Watter skooltradisie of -geleentheid het vir jou die meeste beteken? Hoërskool Randburg is ’n skool wat op gesonde Christelike waardes gebou is en dit steeds nastreef. Die goeie waardes wat by Randburg in ons gevestig is, help my vandag nog in die sakewêreld. Wat doen jy tans (studie/werk/ander projekte)? Ek is Groep Besturende Direkteur van ’n maatskappy (Speedspace) wat in Suid-Afrika en Suider-Afrika werksaam is. Watter waardes of lesse uit jou skooldae dra jy steeds saam met jou? Ek dink die gesonde kompetisie, asook spanwerk, is eienskappe van skool wat ek steeds vandag in my lewe en besigheid implementeer. As jy een ding in jou matriekjaar kon verander, wat sou dit wees? Ons het regtig ’n ongelooflike sterk matriekgroep gehad in 1990 en het onlangs ons 35-jaar reünie by die skool se klubhuis gehad, wat baie goed bygewoon is – ons het heerlik gekuier. Ek sou absoluut niks wou verander nie. Watter boodskap of raad wil jy aan die huidige leerders van Hoërskool Randburg gee? Geniet en koester elke oomblik, want dit gaan regtig baie vinnig verby.