STAGING — geen werklike geld of e-pos / no real money or mail
← Alle stories Matriek 1992

Uit die pen van die BL-Voorsitter

12 May 2026 · Corli le Roux
As iemand wat oor jare heen deur verskeie kanale met die skool verbind is, het ek die skool en sy gemeenskap uit verskillende perspektiewe beleef, elk met herinneringe wat mooi ineenvleg. Dis nou al ’n paar dekades gelede, maar my eie Randjie-jare lê steeds vars in my geheue: onderwysers wat ’n blywende indruk gemaak het (waarvan sommige steeds hier is), vriendskappe wat gebou is. Dit maak dit besonder spesiaal om my eie kinders deur dieselfde gange te sien beweeg, saam met hulle die ritme van skoollewe te beleef en te deel in sport en kultuuraktiwiteite. Dis lekker om te sien hoe ou-bekende tradisies voortleef, maar ook hoe nuwes gevestig word. As ouer van ’n oud-Randjie beleef ek eerstehands die vrug van hoe die skool jongmense voorberei om hulle plek in die grootmenswêreld met selfvertroue in te neem. En as ouer van ’n matriek-Randjie, geniet ek nog vir oulaas die energie en momentum van ’n skool wat aanhou groei, aanpas en vorentoe kyk. Ek sien met trots hoe my kinders gewortel is in Randjie-waardes, vasberade om nooit te gaan lê nie. Vir die afgelope bykans ses jaar het ek ook die voorreg om die skool en ouergemeenskap te dien deur die beheerliggaam - ’n rol wat ’n unieke blik bied op die “enjinkamer” van die skool. Hier sien ek die toewyding en harde werk wat agter die skerms plaasvind om ’n omgewing te skep waar elke leerder kan floreer en om relevant te bly in ’n uitdagende en kompeterende skoolwêreld. Dit beklemtoon net weer vir my hoe belangrik vennootskappe tussen ouers, personeel en die breër gemeenskap is om die skool se voortgesette sukses te verseker. Die rol van ‘n aktiewe en betrokke Alumni-beweging hierin kan nie onderskat word nie, en ek is baie opgewonde oor die dinamiese groei wat tans plaasvind. Saam vorm my verskillende ervarings van Randjie-wees ’n ryk prentjie van ’n skool wat nie net kennis oordra nie, maar ook mense vorm en vir hulle ’n blywende tuiste wil skep. Hierdie skool is meer as ’n plek van onderrig – dit is ’n gemeenskap wat generasies verbind. Dis ‘n hartsplek en ek en my gesin is bevoorreg om deel te wees van die eerste, die enigste, die beste Blou Masjien, nou en vir altyd.