STAGING — geen werklike geld of e-pos / no real money or mail
← Alle stories Matriek 2007

Eenmaal 'n Randjie, Altyd 'n Randjie

11 May 2026 · Tjokkie vd Merwe
Daar is iets besonders aan Hoërskool Randburg. Dit is meer as net bakstene, sportvelde en klaskamers — dit is daardie oorwinnings teen die groen skool wat ’n glimlag op almal se gesig gesit het. Dit is die feesvieringe wanneer die atletiekspan die bond wen, die opwinding van ’n Massa Bank wat die pawiljoen laat dreun het, en ja, selfs die hartseer van ’n laaste-minuut nederlaag teen die bruin skool. Dit is op die sportveld, in die gange en op die skoolgrond waar vriendskappe ontstaan het wat vandag, twintig jaar later, steeds hou. Met verloop van tyd het ons besef dat, alhoewel oud-Randjies regoor die wêreld versprei is, daardie band met die skool nooit regtig verdwyn nie. Die trots, die gees en die gevoel van behoort bly deel van jou storie — lank nadat die matrieksertifikaat oorhandig is. Die Randburg Alumni Netwerk is ons manier om daardie verbintenis lewendig te hou en verder te versterk. Ons droom is om ’n gemeenskap te bou waar oud-leerlinge weer kan skakel, waar herinneringe gedeel word, maar waar daar ook saam vorentoe gekyk word. ’n Gemeenskap wat nie net terugdink aan wat was nie, maar wat aktief help bou aan wat kan wees. Deur talent te ondersteun, fasiliteite te verbeter en geleenthede vir huidige leerders te skep, gee ons iets terug aan die plek wat soveel vir ons beteken het. Hierdie netwerk gaan nie net oor finansiële bydraes of formele strukture nie — dit gaan oor betrokkenheid. Dit gaan oor die wete dat jy steeds deel is van iets groter as jouself. Elke oud-Randjie, ongeag waar jy vandag staan, dra steeds ’n stukkie van die Randburg-gees in jou. Eenmaal ’n Randjie, altyd ’n Randjie.